Die dag toe my tweeling gebore was, was die dag wat ‘n nuwe vlak, vorm en diepte van liefde ook gebore was. Niemand het my voorberei hoe baie moederskap my sal verander nie. Daarmee saam het nog ‘n gevoel gekom… skuldgevoelens oor amper alles.

Dis noodsaaklik om na die bronne van die skuldgevoelens te kyk, want die skuld-emosie beïnvloed nie net my as ouer nie, maar ook my kinders. Hoeveel keer het dit al gebeur dat ek skuldig voel oor iets en dan kom hulle met onaanvaarbare gedrag weg? En net daar is waar skuld se invloed uitkring na onsekerheid, onvoorspelbaarheid en vrees in my verhouding met my kinders.

CF (sistiese fibrose) is ‘n genetiese siekte wat sy eie uitdagings bied. Soms raak ek so moeg dat ek stilweg wens ek kan hospitaal toe gaan om net ‘n bietjie te rus. EN voel ‘n ma nou skuldig as sy so voel…?  Dan op ‘n stadium is die hospitaal onafwendbaar en móét ek gaan. Hospitalisasies kan 14 tot 21 dae wees. EN voel ek dan juis skuldig omdat ek nie by my huis mense is nie…? Skuld dreineer jou, dis soos ‘n hamster op sy wieletjie. Al in die rondte, en jy kom nêrens nie.

Wat maak ek met die skuldgevoelens?

Ek het myself toestemming gegee om mens te wees. Ek mis my eie kinders se “signals” en ek stuur my eie “signals” verkeerd. Een ding wat ek wel al ontdek het, is om mekaar se emosies te erken, en hulle daarop te wys. Dis belangrik byvoorbeeld die oorweldigende gevoel wanneer ek tuis kom na ‘n lang hospitalisasie. Dit kan die tyd wees wat die kinders net stoom wil afblaas. Skielik is hulle lelik met mekaar en met my. Dit is nie aanvaarbaar nie. So hier is wat ek eerder doen wanneer die situasie homself voor doen. Erken die emosie van frustrasie, haat, en/of kwaad teenoor CF en nie teenoor ‘n persoon nie. Ek herinner hulle dat ons nie mekaar mag verniel omdat ons so voel nie. ‘n Lang vet drukkie, ‘n koppie tee wat mamma maak en dan is daar reëls wat aanvaarbaar is om te breek byvoorbeeld ‘n krismis bed te maak voor die TV, met popcorn en fliek tot ons oë toeval!

Gesels, wees bymekaar, spandeer tyd deur kaarte of ‘n bordspeletjie te speel. So kan ek ook nie dat my eie moegheid en ‘n lyf wat nie meer wil vorentoe party dae die oorsaak wees dat ek sommer misluk is met almal nie. Dit maak ‘n verskil om openlik daaroor te gesels. Ons gebruik ons lywe as barometers om te demonstreer hoeveel energie ons het. Is ek met ander woorde vol, half vol of dolleeg? Want om moeg te wees is nie ‘n skande nie. Daarmee saam het ons toestemming om vir die ander in die huisgesin te sê wat jy nodig het om jou batterye te “charge”.

My kinders is ouer en ons kan openlik nou kommunikeer. Hoe het ek met skuldgevoelens geleef toe hulle babas was?

Ek is nie perfek nie. Hierdie eenvoudige waarheid het my skoonma telkemale vir my herhaal. Dit het baie gehelp om te weet ek doen my uiterse beste en ek kan nie meer gee as die hele Rida nie. Gelukkig is kinders geprogrammeer om van hulle ouers te hou! (Dankie tog!) (Op ‘n ligter noot)

Ernstig nou, doen wat jy moet doen om kop te hou. Dis oorweldigend om te verander van ‘n persoon wat ‘n salaris verdien na iemand wat nou afhanklik moet wees van haar man vir geld. Terwyl jy gewerk het, het jy ander mense gesien en gesels. Nou skielik is daardie interaksie baie min of vir sommige geen. Skielik voel jy nie meer waardeer nie.

Wat vir my baie erg was, was die wete dat moederskap ‘n voorreg vir my moet wees, want CF-leiers raak nie sommer swanger nie. En ek het nie elke dag gevoel asof dit so ‘n voorreg is nie. ‘n Ma het eenkeer erken dat sy soms ‘n tweede of derde keer om die blok ry voordat sy in ry by haar huis, want sy sien net nie kans om dadelik huis toe te gaan nie. Ek het liedjies gehad wat MY rustig laat voel het. Ek het nie net baba liedjies gesing vir my kinders nie. Ek het stories gelees vir hulle wat goed was vir MY. Ek het my netwerk mense gebruik soveel as wat ek kon. Ek het veral na die ouer garde geluister met hulle raad oor hoe om babas groot te maak.

Een ding wat ek wel voel ek het honderd persent reg gedoen, is my man ‘n plek gegee om heeltemal pa te wees, sonder dat ek die heeltyd hom vertel het hoe om dit te doen of wat hy verkeerd doen. Ek het gereken hy sal vra vir hulp as hy dit nodig het. Ons vrouens moet versigtig wees dat ons nie die mans uitskop wanneer die babas kom nie. Jou baba gaan grootword en dan is dit jou man wat oorbly… Die vertroue wat ek vir hom gekommunikeer het deur hom toe te laat elke stap van kinders grootmaak, het ons twee gesmee as ‘n span wat die wêreld kan aanpak. My kinders weet hulle pappa is my beste vriend. En al voel ek nie vanaand soos ‘n “great” ma met groot sukses nie, kan ek in sy arms lê, raad vra, lekker slaap en môre weer die beste weergawe van myself wees.

Lag, wees lief en laat leef

Rida Viljoen

Rida Viljoen is a parent coach who believes parenting today leads to tomorrow’s bliss. She works with parents who want to take their parenting to the next level. With a little planning and a whole toolkit of techniques learnt early on, it can make all the difference when the teen years arrive.  The goal is to raise successful adults contributing towards the greater community in a meaningful way.

Click here to visit Rida’s Blog

COVID-19 Portal